Tuis


Arendsjeug is ‘n bekering onder jong Christene.

Het jy jouself al ooit afgevra of jy meer kan doen – of jy dalk in jou jeug (selfs in jou tienerjare) jou lewe vir God kan gee en Hom kan dien met alles wat jy het? Dis nie ‘n vraag wat gereeld vir ons gevra word nie. Selfs die kerk bly maar stil daaroor. Die anname is: tieners is maar net só… Met “só” word natuurlik bedoel: sonder rigting, sonder passie, sonder enigiets om oor huis toe te skryf.

Dis asof daar aanvaar word dat ons lui en rigtingloos is voordat die saak nog oorweeg is. Asof ons uitgemerk word vir mislukking voordat ons probeer het.

En ons is nie onskuldig nie. Hoeveel tyd spandeer ons nie agter ‘n skerm nie? Hoe gereeld kruip ons nie weg in ons gemaksones nie? Jesus Christus roep, maar ons hoor nie, want Netflix en YouTube is te hard aangeskakel.

Ons, as jong Christene, behoort ‘n voorbeeld te wees vir ander gelowiges in woord, in wandel, in liefde, in gees, in geloof en in reinheid (1 Tim 4:12). Ons is nog jonk van gees en liggaam. Ons het meer tyd en energie om God te dien as ouer mense.

Ons is die nuwe hande op die land – die versterking in die oorlog. Ons behoort deur ons passie en gewilligheid ander gelowiges aan te spoor om moed te skep en verder te stry!

Dit is waarvoor Arendsjeug staan: ‘n bekering onder jong Christene – ‘n rebellie as jy wil. Ons glo dat hierdie babagenerasie lank genoeg aan die bottel gesuig het. Ons wil stry vir Christus en ons roep jou op om jou by ons te voeg. Saam sal ons, met God’s hulp, ons generasie roep tot bekering!

Klik hier, om die #verskil artikels van Arendsjeug te lees!