2 Maniere Om Groot Dinge Te Begin Doen

Waarom doen ons groot dinge?

Regtigwaar – hoekom sal énige tiener hulself wil verontrief deur groot dinge te doen? Goed wat téén die norm is, en wat hulle dadelik as “anders” sal brandmerk? Dit vat soveel moeite … en sê nou jy faal?

Hier is 2 redes waarom ek kies om groot, moeilike dinge te doen, eerder as om die maklike, normale pad te stap.

1. Verheerlik Hom met dankbaarheid

Die tienerjare is ’n geskenk uit God se hand. Dis ’n wonderlike tyd vir leer, groei en om in jou toekoms te belê. Tieners is tot ’n mate baie sorgvry; meeste van hulle lê nie wakker oor dinge soos kos, ’n dak oor hul kop of huur nie. Hul ouers sorg daarvoor.

Meeste tieners is ook baie vry omdat hulle nie vas is aan ’n agt-uur werksdag, vyf dae ’n week nie. Buiten ’n paar “moets” – soos skool en huiswerk – is jý die baas van jou ekstra tyd. Jy kan jou goed só reël dat jy kans kry vir dit wat jy graag wil doen en probeer. En as jy nie daarvan hou nie, is dit baie makliker om op te hou as om by die werk te bedank.

Hierdie sorgvryheid maak jou as tiener los om groot goed te doen, sonder ’n yslike vrees vir mislukking. Jy kan dinge toets en probeer, en as dit nie uitwerk nie het jy nog ’n huis en ouers wat vir jou sorg.

Die Here het ons geseën met hierdie kosbare jare. Ek weet nie van jou nie, maar dankbaarheid en ’n begeerte om sy Naam te verheerlik, maak dat ek nie my tienerjare wil mors nie.

2. Belê in jou toekoms

Jou tienerjare is ’n tyd om te belê in die grootmenslewe. Die goeie gewoontes wat jy kweek en talente wat jy ontwikkel – terwyl jy nog in die huis en op skool is – sal vir jou tot seën wees as jy die wêreld daar buite betree.

As jy nóú kies om getrou te wees in klein dinge, sal die groot goed eendag vir jou baie makliker wees.

As jy nóú kies om jou skoolwerk betyds klaar te kry, sonder dat iemand heeltyd hoef te vra of jy dit gedoen het, sal jou werkgewer eendag weet hulle kan op jou staatmaak (en baie dankbaar wees daarvoor).

As jy nóú kies om slim te werk met jou geld, en elke maand éérs geld eenkant sit vir die nodige goed, sal jy eendag baie beter ’n salaris kan hanteer.

As jy nóú kies om jou verhouding met die Here jou eerste prioriteit te maak en daarin te belê, sal dit vir jou die res van jou lewe ‘n seën wees.

Jy hét hierdie kosbare jare van relatiewe vryheid en min “groot” sorge. Gebruik dit om in jou toekoms te belê, en gebruik dit só dat dit ’n lied van dankbaarheid is aan jou Skepper wat jou so geseën het.

“Onthou jou Skepper terwyl jy jonk is …” (Prediker 12:1)


‘En dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid voordat die ongelukkige dae kom en die jare aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar geen behae in nie’ – Pred 12:1



Jeanette van As (19) is ’n kind van God wat net uit Sy genade leef. Sy is ’n trotse Sedgefield local en het begin skryf omdat haar gesin haar gereeld moes vra om stil te bly ​:) Sy’s mal oor lees, drama, musiek en enigiets Iers. Sy skryf oor haar lewensreis en God se genade op haar blog.