4 Redes Om Saam Met Iemand Groot Dinge Te Doen


‘Twee is beter as een, want hulle het ’n goeie beloning vir hulle moeitevolle arbeid. Want as hulle val, kan die een sy maat optel, maar wee die een wat val sonder dat daar ’n tweede is om hom op te tel. Verder, as twee bymekaar lê, kry hulle warm; maar hoe kan een allenig warm word? En as iemand die een aanval, kan altwee hom teëstand bied; en ’n driedubbele lyn word nie gou verbreek nie.’ – Pred 4:9-12


Wel as jy soos ek is, dan leef jy grootliks volgens die slagspreuk: “Ek doen dit eerder self, anders word dit nie ordentlik gedoen nie.”

Ek vertel myself gereeld dat ek iets beter alleen kan doen as wat ek dit kan doen wanneer iemand my help. Ek werk eerder solo as saam met iemand.

Hoekom?

Vaar ek regtig beter solo as in ‘n span?

Nee. Ek mag dalk dink dat ek die werk beter alleen doen, maar in meeste gevalle sou ek beter gevaar het as ek hulp gehad het.

Prediker leer vir ons ‘n baie belangrike beginsel oor spanwerk: Dit is altyd beter om hulp te kry as om alleen te werk.

Hier is 4 redes waarom ek dink jy altyd vir hulp moet vra wanneer jy Groot Dinge doen.

1. ‘n Driedubbele lyn word nie gou verbreek nie.

Maak nie saak hoe goed ek dink ek is nie, daar is net soveel wat ek alleen kan regkry.

Ek het net 24 uur in ‘n dag. Ek het net twee hande, twee oë, en een brein. Daar is sekere dinge wat ek baie goed kan doen, maar daar is baie goed wat ek nie so goed, of glad nie kan doen nie. My kennis van die Bybel is beperk. My lewensondervinding is skraal. Ek kan net soveel dinge doen voordat ek uitgeput is.

Na die sondeval is die mens beperk, en alleen kan ons nie baie verrig nie. Wanneer ons egter saam werk verander die hele prentjie.

Arendsjeug is die perfekte voorbeeld hiervan. Daar is nie ‘n manier wat een van ons dit sou kon regkry om Arendsjeug alleen op die been te bring nie. As ek nie die hulp van Katrina gehad het nie, sou ek binne die eerste paar weke moedopgegee het. Dieselfde sou gebeur het as Katrina alleen die taak probeer aanpak het.

Noudat daar twee van ons is wat op Arendsjeug werk, het ons nie 24 uur in ‘n dag nie, maar 48. Ons het nie twee hande nie, maar 4. Ons het nie een brein nie maar twee. Ons kan twee keer so vinnig, twee keer so effektief, en twee keer so produktief werk.

Dit is die voordeel van ‘n driedubbele lyn.

2. Spanwerk versterk vriendskapsbande.

Daar is niks wat beter is vir vriendskap as spanwerk nie.

Wanneer jy in ‘n span werk, dan het jy die voorreg nie alleen om uit jou spanmaats te leer nie, maar ook om van jou spanmaats te leer. Jy kry die kans om te leer waarvan jou vriende hou. Hoe hulle dink oor sekere sake. Jy kry die kans om met hulle diep gesprekke te voer, hulle te leer ken.

Deel van ‘n vriendskap is om altyd meer en meer van jou vriend te wil leer. Geen vriendskap kan bly bestaan as julle nie aanhou om van mekaar te leer nie. Met dit bedoel ek nie die alledaagse voorkeure en afkeure nie, ek bedoel werklik diep leer watter soort persoon jou vriend is!

Daar is nie ‘n beter manier om jou vriende te leer ken, as om saam met hulle aan ‘n projek te werk nie. Hoe groter die projek, hoe beter leer jy jou vriende ken.

3. In ‘n span word kennis uitgedeel en uitgebrei.

Vir my is elke projek wat ek aanpak tweedelig:
Eerstens is daar die einddoel. Dit wat ek graag wil bereik. Wat ek graag wil verbeter. Wat ek graag wil sien gebeur na aanlyding van die projek.
En tweedens, is daar die pad wat ek stap tydens die projek. Dit wat ek leer en ondervind terwyl die projek aan die gang is.

Wanneer ek in ‘n span werk, dan het ek die voorreg om van my spanmaats te leer. Dan het ek die voorreg om te leer hoe hulle sekere dinge regkry. Ek het die voorreg om nuwe dinge te leer van die skrif, en ek het die voorreg om ou dinge wat ek al lankal weet in ‘n nuwe lig te sien.

Verder bied dit ook my spanmaats die kans om van my te leer.

Daar is dinge wat ek beter as ander kan doen. Dinge wat ek verstaan op maniere wat ander dit nie verstaan nie. Dinge wat ek in ‘n ander lig sien as ander mense. Wanneer ek in ‘n span werk dan gun ek ook my spanmaats die kans om van my te leer, en om by my te leer.

Kennis en wysheid is nie gemaak om vir onsself te hou nie. God het dit gemaak vir ons om te deel, maar hier is die geheim: Wanneer jy kennis en wysheid uitdeel, dan word dit nie minder nie, dit word meer!

Daarom, werk in ‘n span sodat jou kennis uitgedeel en vermenigvuldig kan word.

4. In ‘n span is daar altyd iemand om jou op te help.


‘Want as hulle val, kan die een sy maat optel, maar wee die een wat val sonder dat daar ’n tweede is om hom op te tel.’ – Pred 4:10


Ek gaan nie vir jou lieg nie. Met elke groot projek wat jy aanpak gaan jy op ‘n stadium voel dat dit beter sal wees om te sterf.

Dit is op hierdie stadium wat jou spanmaats wys wat in hulle steek, wanneer hulle jou bystaan, en daar vir jou is wanneer jy hulle die nodigste het.

Volgende keer wat jy dink: “Ek kan dit beter alleen doen” vra vir jouself: “Wie gaan daar wees om my op te help? Gaan ek een van die wees waarvan die Prediker skryf: ‘wee die een wat val sonder dat daar ’n tweede is om hom op te tel.’?”

Gaan jy die een wees wat sonder ‘n spanmaat geval het, of gaan jy die een wees wat met ‘n spanmaat staande gebly het?
Die keuse is joune.

Oor die Skrywer:



Pieter van Deventer is ‘n 17 jarige tiener, woonagtig in Pretoria, Suid Afrika. Hy hou baie van musiek, goeie boeke, en diep gesprekke oor die Skrif. Sy droom is om eendag ‘n Godvresende vader te wees. (N.S. onlangs het hy die moontlikheid om teologie te studeer begin oorweeg…)