Die ‘klein’ Groot Dinge…

Dis een ding om groot dinge te doen wat tot ’n mate raakgesien word – soos om te help met die aanbidding by jou kerk, ’n boek te skryf of ’n webwerf te skep.

Dis heeltemal anders – en baie moeiliker – om “klein” groot dinge te doen: dinge wat jy wéét reg is, maar nie noodwendig lekker of opwindend is nie. Soos om geduldig met jou negejarige sussie te wees. Om die wasgoed op te hang (alweer). Om daardie vervelige Afrikaanse opstel te skryf en betyds in te handig. Om ekstra moeite te doen as jy stofsuig en in die hoeke ook skoon te maak.

Wat is die doel van sulke vervelige goed? Gaan dit nou régtig die einde van die wêreld wees as jy vir twee weke nie die badkamer skoonmaak nie?

Wel, nee – maar dit beteken nié jy moet ophou skoonmaak nie! Want die “klein” groot dinge, al voel hulle vervelig en onbelangrik, bied ’n uitstekende geleentheid vir karakterontwikkeling.

Die klein dinge moet gewoonlik elke liewe dag, week of maand gedoen word (of, in die geval van geduld en liefde teenoor jou gesinslede, elke uur). Dit leer jou uithouvermoë, om aan te gaan al is dit vervelig, al voel dit nimmereindigend, en al voel jy niemand sien jou raak nie.

Gepraat van raaksien – danksy sosiale media kan ons omtrent alles van almal weet. Almal maak seker hulle deel die beste van hul prestasies en die hoogste van hul hoogtepunte. Ken jy enigiemand wat foto’s post waar hulle toilette skrop of hul boetie se kamer help opruim? Ja, toemaar, ek ook nie.

Maar vir God is die glamorous nie noodwendig die beste nie.


‘So sal die wat laaste is, eerste wees, en die wat eerste is, laaste; want baie is geroep, maar min uitverkies.’ – Mat 20:16


In sy oë hang ons waarde nie af van wat ons doen of nie doen nie. Vir Hom is dit meer as oukei as jy deur ’n berg skottelgoed ploeg eerder as om in Amerika te gaan au pair. Doen wat die Here vir jou gegee het om te doen, en doen dit tot eer van sy Naam al is dit klein. Want vir Hóm is jy van onskatbare waarde, selfs al lê jy net en slaap.

Die “klein” groot dinge hou jou afhanklik van God. Jy leer Hom baie beter ken as jy gereeld moet bid vir nederigheid, of krag om hierdie taak vir die 649ste maal te doen. En die “klein” goed bied ook ’n wonderlike geleentheid vir die Here om jou te stroop van alles waarin jý dink jou waarde lê.

Aanhouer wen – en ons God gebruik alles, selfs die onbenulligste dinge. So skraap jou moed bymekaar en dóén daardie simpel klein goed. Onthou: hoe minder daar van jóú en jou gevoel van belangrikehid en selfstandigheid is, hoe makliker kan Christus deurskyn.


‘En sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer. – Mat 25:21


Oor die Skrywer:



Jeanette van As (19) is ’n kind van God wat net uit Sy genade leef. Sy is ’n trotse Sedgefield local en het begin skryf omdat haar gesin haar gereeld moes vra om stil te bly ​:) Sy’s mal oor lees, drama, musiek en enigiets Iers. Sy skryf oor haar lewensreis en God se genade op haar blog.