Hoe Om Te Begin Groot Dinge Doen

So – jy’t besluit om deel te word van die kontra-kultuur van tieners wat die norm bevraagteken en groot dinge doen. Baie geluk! Nou is die vraag … hoe en waar begin jy?

Wat is groot vir jou?

Is daar dinge wat vir jou groot is? Goed waarmee jy al lank sukkel en nie meer probeer wen nie? Dinge soos tydsbestuur, jou wiskunde betyds klaarkry, sosiale media uitsny?

Begin dan met een van daai dinge.

Dit voel dalk onbenullig, maar hierdie is eintlik van die moeilikste groot goed om te doen. Tog, omdat dit persoonlik is, is dit so bevredigend as jy kan terugkyk en sien hoe jy in die Here se krag jou reus getem het.

Maak ’n PVA

Reg, nou het jy ’n “persoonlike” groot ding gekies. Jou volgende stap is om ’n PVA (Plan van Aksie) te maak.

Vra jouself: Hoekom sukkel ek met hierdie ding? Identifiseer die groot probleem en kyk hoe jy hom kan wen. As jy byvoorbeeld sukkel om jou skoolwerk klaar te maak omdat jou aandag afgetrek word, besluit heel eerste hoe jy aandagafleiers kan uitskakel. As jy sukkel om gereeld oefening te kry omdat jou selfdissipline wankelrig is, sê vir jou vriendin jy kry haar soggens 6:30 by haar huis sodat julle saam kan gaan stap. Dit sal ’n groot verskil maak as jy weet iemand wag vir jou.

Na jy jou stappe geïdentifiseer het, maak ’n PVA wat vir jou werk – of dit nou ’n lysie, ’n spreadsheet of ’n tekening is. Maak dit vir jouself maklik om jou plan te volg en jou vordering neer te skryf.

Bid en vra

Moenie dit in jou eie krag probeer doen nie! Gee jou plan vir die Here; bid daaroor en bid vir jouself met elke tree wat jy gee.

Dit kan ook baie help as jy jou PVA vir ’n vriend stuur en hulle vra om jou aanspreeklik daarvoor te hou. Dalk kan hulle elke week vir jou relevante vrae vra. (“Het jy dié week jou humeur verloor? Was jy verantwoordelik met jou tyd? Hoeveel uur minder was jy op Facebook?”) Óf jy kan vir hulle ’n weeklikse vorderingsverslag stuur. (As jy weet iemand gaan dit lees, sal jy seker maak jy doen waardevolle/genoeg dinge om oor te skryf …)

Doen iets lekkers!

Ai, die ou beloningstelsel werk darem fantasties. Jy hoef jouself nie noodwendig vir elke voltooide stap van jou plan te beloon nie, maar dit sal baie help aan die begin, veral met die goed wat jy die minste wil doen.

Nes jy dít moes identifiseer wat vir jou die moeilikste is, kies nou wat vir jou lekker is en gaan doen dit! Dit sal sommer honderd keer beter wees omdat jy iets groot moes doen om dit te “verdien”.

Oor die Skrywer:



Jeanette van As (19) is ’n kind van God wat net uit Sy genade leef. Sy is ’n trotse Sedgefield local en het begin skryf omdat haar gesin haar gereeld moes vra om stil te bly ​:) Sy’s mal oor lees, drama, musiek en enigiets Iers. Sy skryf oor haar lewensreis en God se genade op haar blog.