‘n Kultuur van Bybelstudie


Hallo julle.

Ek sukkel om Bybel te lees.

Ek vind dat dit ongelooflike self dissipline vat, om een keer ‘n dag bybel te lees. Ek kan regtig nie vir ander mense praat nie, maar my eerlike opinie is dat elke Christenjongmens met my sal saamstem. Bybelstudie is baie moeite.

En tog, dit behoort nie moeite te wees nie.

Eerstens, ons is nuutgemaak deur Jesus se kruisdood en opstanding, en daarom is ons harte nuutgemaak. Ons behoort te wil Bybel lees. Tweedens, dis maklik om tyd te spandeer aan ander goeters soos flieks, boeke en rekenaarspeletjies, en tog is Bybel lees vir myself baie intressanter as hierdie dinge.

Wanneer ek myself so ver kry om Bybel te lees, dan vind ek dat dit my ongelooflik intresseer. Dit kan dalk net ek wees, maar ek dink dat almal van ons, ons hiermee kan vereenselwig.

Buiten vir dat ons moet Bybel lees, en dat dit intressant is, is dit egter ook baie goed.

‘n Generasie wat moeite doen met stiltetyd en Bybelstudie kan nie anders as om met God se hulp ‘n sout vir die aarde te wees nie. Dink net aan die verskil wat ons sal kan maak as al die Christenjongmense in die wêreld meer tyd aan Bybelstudie sal spandeer.

Ek weet nie juis hoe dit by jou die geval is nie, maar ek weet dat ekself nie meer as ‘n uur gemiddeld elke week spandeer aan Bybelstudie nie – dit is nou sondageredienste en huisgodsdiens uitgesluit. Ek vermoed dat dit by meer jongmense as net ek die geval is, so as jy jou hiermee vereenselwig, wees gerus, jy is beslis nie die enigste nie.

Maar hoekom is dit so moeilik om bybel te lees?

Ek meen ons lees elke week ure lank aan artikels op Facebook wat ons nie juis intresseer nie, so dit kan nie die lees self wees nie. Die eeu-oue antwoord wat ons almal ken, is dat die duiwel ons daarvan verlei, en hoewel dit beslis waar is, dink ek nie dis die enigste rede nie.

Ek dink dit is moeilik om bybel te lees, want ons doen dit nie. Houvas, laat ek verduidelik.

Wat is ons gesinskultuur? As die kinders moeg is, wat is die eerste ding wat ons vanaand gaan oorslaan? Bybelstudie. Ons sal môreoggend Bybel lees. Is ons bereid om aandete oor te slaan in ‘n poging om tyd te maak vir bybelstudie? Natuurlik nie. Dit is absurd.

As ek met ‘n klomp Christen vriende van my kuier, dan is dit selde rondom ‘n bybel. Ons sal wel gereeld gesprekke voer oor skriftelikke onderwerpe, en dit is beslis ‘n baie belangrike deel van ‘n Christen se lewe, maar waar is die Bybel lees? Is dit nie belangriker om saam Bybel te lees, as om saam ‘n fliek te kyk nie?

Ons maak afsprake om fliek te kyk, bowling te speel, uit te help met huiswerk, koffie te drink, ensovoorts ensovoorts, maar nooit om Bybel te lees nie. Dink net hoe uiters vreemd dit gaan voorkom as ek môre vir jou ‘n boodskap stuur om te vra of jy by my wil kom kuier sodat ons saam kan Bybel lees. So iets sal absurd wees.

Die probleem lê by ons. By my. Bybelstudie is nie deel van my geloofskultuur nie.

So, wat behoort ons hieraan te doen?

Onthou jy nog wat ons opdrag van God is?

‘Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie.’ – Mat 5:13

Ons moet die sout van die aarde wees. Bybelstudie het onder Christene heeltemal vervaag tot ‘n addisionele ekstra. Maar ons is die sout van die aarde. Ons jongmense spesifiek (1 Tim4:12). Ons moet die ‘normaal’ verander. Laat ons nie sit en tob oor alles wat verkeerd is in ons geloofskultuur nie, kom ons verander dit!

Hoe begin ons ‘n kultuur van Bybel lees?

Eenvoudig, ons begin, en ons doen dit saam.

Kom ons maak afsprake om Bybel te lees. Waarom behoort dit vreemd te wees? Ons is almal lief vir God, behoort ons dan nie afsprake spesifiek met mekaar te maak om Bybel te lees nie? Bybelstudie behoort deel van christene se sosialisering te wees.

Dink mooi hieroor. Ek dink regtig ons behoort dit te doen, maar ek kan dit nie alleen doen nie.

Om Bybelstudie te herstel in die ereplek wat dit behoort te hê in die Christen gemeenskap, dit gaan baie opofferings verg. Mense bly mense. Ons gaan moeg wees sommige aande. Ons gaan baie huiswerk hê. Ons tyd gaan altyd min wees. Soms gaan jou vriende nie van jou hou nie. Soms gaan ons laks wees. Maar behoort ons dit te doen?

Behoort ons saam Bybel te lees?

Behoort ons afsprake te maak om Bybel te lees?

Behoort ons as ‘n Christen gemeenskap saam met mekaar, Bybelstudie te herstel in sy ereplek?

Ek dink so.


Oor die Skrywer:



Pieter van Deventer is ‘n 18 jarige tiener, woonagtig in Pretoria, Suid Afrika. Hy hou baie van musiek, goeie boeke, en diep gesprekke oor die Skrif. Sy droom is om eendag ‘n Godvresende vader te wees. Hy gaan DV 2019 begin met teologiese studies by die AP Akademie.