Vertrou jy God?


Wie is daar onder julle wat die Here vrees, wat na die stem van sy Kneg luister, wat in duisternisse wandel en geen ligstraal sien nie? – laat hy vertrou op die Naam van die Here en steun op sy God! (Jesaja 50:10)

Ek dink een van die grootste probleme waarmee ek, en baie ander Christene sukkel, is dat ons nie vir God vertrou nie. Ons vertrou nie vir God nie, en ons vertrou ook nie op hom nie.

Wat ek daarmee bedoel is die volgende:

As jy iemand vertrou beteken dit dat jy, om die HAT se definisie te gebruik, hom as eerlik en getrou aansien. Dit beteken dat jy weet dat ‘n persoon ‘n sekere karaktereienskap, naamlik eerlikheid en getrouheid, besit. Jy weet dat hierdie persoon betroubaar is. As hy iets sê, bedoel hy dit. As hy iets belowe, sal hy dit uitvoer. Sy ja is ja, en sy nee is nee.

As jy op iemand vertrou beteken dit, dankie mnr. HAT, dat jy op hom reken, op hom staatmaak en jou verlaat op hom. Jy is nie nou meer besig om die persoon se karakter te beskryf nie, jy is nou besig om te reageer op iets wat jy reeds van sy karakter weet. Jy baseer jou aksies op dit wat jy van die ander persoon weet of verwag.

Ons kan dus, byvoorbeeld, vertrou op die feit dat ons op God kan vertrou. Ons kan reken daarop dat God eerlik en getrou is.

Ons probleem

Die probleem is, natuurlik, dat ons baie sukkel om dit te doen.

Ek weet nie van jou nie, maar sodra dinge swaar gaan, kry ek skielik baie swaar om God se beloftes te onthou. En selfs as ek hulle onthou, gaan dit dubbeld so swaar om hulle te glo.

Ons weet God laat alle dinge vir ons beswil meewerk (Romeine 8:28). Maar as jy jou been breek, of as iemand vir wie jy lief is doodgaan, of as jy ‘n idiotiese opmerking maak op ‘n partytjie en in die verleentheid kom, of as die ekonomiese en politieke situasie van ons land al hoe slegter word? Dan sukkel ons mos baie om dit te glo.

Ons weet dat ons gered word deur geloof in Jesus Christus (Johannes 3:16, Johannes 6:40). Maar as jy vir die hoeveelste keer in die versoeking kom, en vir die hoeveelste keer reguit in die sonde se arms invlug, en vir die hoeveelste keer dieselfde ongehoorsaamheid teen God begaan? Dan sukkel ons mos baie om te glo dat dit Jesus se bloed is wat ons red, en nie ons eie werke nie.

En as ons nie meer vir God vertrou nie, nie meer glo dat hy die waarheid praat nie, dan is die volgende stap dat ons nie meer op God vertrou nie. Ons soek dan iets anders om op te reken, want ons glo nie meer dat God kan, gaan of wil doen wat hy gesê het nie.

Jerobeam se probleem

‘n Goeie voorbeeld van hierdie probleem is ‘n ou met die naam Jerobeam. Miskien lui die naam ‘n klokkie, en onthou jy dat hy ‘n koning van Israel was. As jy nog so bietjie dink, sal jy onthou dat hy koning geword het nadat die Here die koningskap van die huis van Dawid weggeneem het. Hy het die ryk van Israel geskeur en die grootste deel, ‘n volle tien van die twaalf stamme, aan Jerobeam gegee.

Jy sal ook miskien onthou dat hy die man was wat goue kalwers gebou het en grootskaalse afgodediens in Israel ingevoer het.

Sien, Jerobeam het ‘n probleem gehad.

Nadat Rehabeam, die seun van Salomo, hom soos ‘n esel gedra het en die volk so kwaad gemaak het dat hulle hom nie as koning wou kroon nie (lees gerus 1 Konings 12) het die volk vir Jerobeam geneem en hom koning gemaak. En Jerobeam het net dit gesien. Hy het gesien dat die volk blykbaar die mag het om die koningskap te gee aan wie hulle wil. Dit was dus vir hom van die uiterste belang om die volk se goedgesindheid en aandag te hou. Sy probleem was toe dat die tempel van die Here in Jerusalem was, en Jerusalem was waar Rehabeam nog koning was. As die volk na Jerusalem opgaan om te offer sal hulle mos gou-gou weer lus raak om liewer vir Rehabeam as koning te hê! Wie weet, die een dag is hy wat Jerobeam is nog koning oor Israel, die volgende dag lê hy dood op ‘n mishoop en staan die volk weer bankvas agter Rehabeam.

Jerobeam het toe twee keuses gehad.

Aan die een kant kon hy op God vertrou. Hy kon onthou het dat God belowe het dat Jerobeam sal regeer oor alles wat sy siel begeer (1 Konings 11:37). Hy kon geglo het dat God die waarheid gepraat het, toe hy belowe het dat hy vir Jerobeam ‘n koninklike en bestendige huis soos die huis van Dawid sou stig (1 Konings 11:38).

Aan die ander kant kon Jerobeam besluit om self ‘n plan te maak, en daarop te vertrou.

Jerobeam het twee goue kalwers laat bou. Hulle is in strategiese plekke opgerig, en daar is priesters en feesdae en offers vir hulle ingestel. Die volk het nie meer na Jerusalem opgegaan om vir die Here te offer nie, hulle het liewer na Dan gegaan en voor ‘n afgod neergebuig.

Hierdie plan van Jerobeam het hom en sy nageslag en op die ou end die hele Israel duur te staan gekom (1 Konings 14:1-20). Hoewel hy vir ‘n aansienlike tyd op die troon gebly het, is sy hele nageslag op wreedste wyse deur Baesa omgebring. Danksy die afgode wat hy ingevoer het, het die volk van Israel, buiten van ‘n paar kort tydjies, nooit weer volkome na die Here teruggekeer nie.

Omdat hy God nie vertrou het nie, het hy ook nie op hom vertrou nie, en op die ou end het hy sy probleem net erger gemaak in plaas daarvan om dit op te los.

Die oplossing van ons probleem

Jy sien dus dat ons probleem dat ons nie God vertrou nie, ‘n ernstige een is. Dit kan tot baie groot sonde en skade vir jou en almal om jou lei.

Maar wat dan gedoen om hierdie probleem op te los?

Die oplossing is eenvoudig, maar nie maklik nie:

Ons moet ons fokus op Jesus Christus sit. Jesus is die Groot Bewysstuk dat ons God kan vertrou. Hy is die bewys dat God die waarheid praat, en dat hy sy beloftes nakom. As God sy eie, geliefde Seun sal opoffer om sy verlossingsbelofte na te kom, hoeveel te meer sal hy nie elke belofte in die Skrif, groot en klein, nakom nie?

Wanneer die omstandighede moeilik is, en jy begin twyfel daarin dat God sy beloftes sal nakom, moet jy dus net na Jesus toe gaan. Dit is slegs deur Hom wat ons die beloftes van God sal leer ken, en slegs deur Hom wat ons sal weet dat daardie beloftes waar is. Dit is net as ons op Jesus gefokus is, en nie meer op ons moeilike omstandighede nie, wat ons sal kan leer om God in alles te vertrou.

Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom [..die Seun van God, Jesus Christus…] is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons. (2 Korinthiërs 1:20)


Oor die Skrywer:



Katrina van Oostrum is 20 en sy is ‘n gebore en getoë Pretorianer. Sy is ‘n Christen, en haar droom is om boeke te skryf wat die Here se naam verheerlik en mense laat dink. Wanneer sy nie skryf nie hou sy daarvan om te lees, oefening te kry en kos te maak. Verder hou sy van flou grappe, Latyn en Groot Glase Koue Water.