‘n Verantwoordelike Tiener


“Please subscribe and like, check out this other videos that we have for you…”

*Video stop*

Ek kyk op my selfoon-horlosie. Dis al amper 12 uur die nag.

Hoe het ek hier gekom?

Dit het begin by daai video oor vrye spraak deur Jordan Peterson… 3 ure later, die soveelste video oor die verskil tussen Marvel en DC gaan binne ‘n paar sekondes begin speel.

My gewete: Moet jy nie eerder gaan slaap nie?
Ek: Net nog hierdie ene. Dit is tog net 5 minute. Wat maak dit nou saak of ek 5 minute vroeër of later gaan slaap?
My gewete: Maar as jy die een klaar gekyk het, gaan jy dan gaan slaap?
Ek: Wel…
My gewete: Nee. Dis nie reg nie. Kom, sit die foon af, ons gaan nou slaap. Goeienag!

Ek wens my gewete pla my meer gereeld.

Nou, daai aand het goed uitgedraai. Ek is seker ons kan almal saamstem dat 12 uur nie te laat is om te gaan slaap nie. Ek het ‘n goeie nagrus ingekry, en die volgende dag was ek uitgerus genoeg om hard te werk.

Maar draai dit elke keer so goed uit?

Ongelukkig nie. Mnr. YouTube is baie skelm. Hy weet presies van watter videos ek hou. Baie aande sus ek my gewete aan die slaap met die duk stuk pienk spookasem wat YouTube my so geredelik aanbied. Daar is ook goeie aande. Aande wat ek vroeg gaan slaap om die volgende oggend voor my wekker wakker te word.

Maar hierdie aande is nie die norm nie.

Jy sien vriend, ek is onverantwoordelik.

Ek sê dit nie om jou meegevoel vir my te wen, of om jou emosioneel betrokke te kry by die artikel nie, maar omdat dit waar is.

Verantwoordelikheid teenoor onverantwoordelikheid.

Dit is belangrik dat ek verantwoordelikheid en onverantwoordelikheid definieer voordat ek verder gaan.

Verantwoordelikheid, beskou ek as die posetiewe aksie wat ‘n mens neem om die realiteit van jou probleme te aanvaar, en te onderneem om die bul aan die horings te gryp en jouself nie te laat onderkry deur jou omstandighede nie.

Onverantwoordelikheid, beskou ek as die presiese teenoorgestelde. Die negatiewe aksie wat ‘n mens neem om die werklikheid en realiteit van jou probleme te ontduik, en vir jouself ‘n spookasem wêreld te skep waarin jou probleme nie bestaan nie.

Die spookasem wêreld.

Niemand van ons wil graag erken dat ons in die sin onverantwoordelik is nie. Dis nie lekker om te erken dat ons soms ons tyd mors nie. Dis nie lekker om te erken dat ons die werklikheid ontduik nie. Maar tog, dit is waar.

Jy maak dalk nie soos ek, deur die nag om te kyk na YouTube videos nie, maar ek is redelik seker dat almal van ons – tenminste tot ‘n mate – ‘n spookasem wêreld het.

Dalk staan jou spookasem wêreld op Facebook, of ‘n ander vorm van sosiale media. Dalk is dit glad nie digitaal nie. Jy kan ook vir jouself ‘n spookasem wêreld skep in musiek, boeke of kuns. Jy kan selfs vir jou ‘n spookasem wêreld skep net met jou verbeelding.

Nou, jou spookasem wêreld is nie vanself sleg nie. Jou spookasem wêreld is sleg wanneer jy dit gebruik om jou probleme te ontduik. Ongelukkig is dit juis waarvoor ons ‘n spookasem wêreld ontwerp.

Die regte wêreld.

Op die korttermyn is dit nie so lekker om in die regte wêreld te wees nie. Ons ontwerp dan juis ‘n spookasem wêreld om die probleme van die regte wêreld te ontduik. Jy sien, die regte wêreld is vol uitdagings. Daar is sweet, trane, bloed, skraapplekke, sonde, vuil badkamers, slegte mense en slegte omstandighede.

In plaas van die onmiddelike pienk, wasige, kort termyn spookasem-vervulling wat die spookasem wêreld vir ons bied, bied die regte wêreld vir ons ‘n taai, werklike, moeilike, lang termyn steak-tipe vervulling wat ons slegs kry deur uitdagings kop aan kop te ontmoet, en moeilike dinge te doen in vertroue op ons God.

Jy sien, Christus het nie vir sy probleme gevlug nie. Hy moes die dood sterf wat ons toekom. Hy moes God se haat volkome dra, sodat ons kan lewe. Maar op die aand voor sy kruisiging, toe bid Hy: “Laat u wil geskied”. Jesus het nie gevlug vir sy probleme nie. Hy het dit nie ontduik in ‘n spookasem wêreld nie. Hy het dit kop aan kop ontmoet, met sy vertroue op God.

Jesus kan bid “Laat u wil geskied” want Hy weet, dat ons probleme nie weggaan wanneer ons die bestaan daarvan ontken nie. Daar was net een manier vir Christus om sy probleme op te los. Net een pad wat Hy kon stap. Die pad van die kruis, maar ook die pad van ewige vervulling in die God-gegewe oorwinning.

En nou is daar net Een deur wie ons volkome vervulling kan kry.

Kom ons volg sy voorbeeld.

Dit is nie maklik nie. Dit verg baie deursettingsvermoë om verantwoordelik te lewe. Dit vat baie dissipline om nie heeltyd na ons spookasem wêreld te vlug nie. Dit vat geloofsvertroue om Christus se voorbeeld te volg.

Maar juis daarom is dit die moeite werd, want so groot soos ons uitdagings is, soveel groter is God se genade.

Daarom moedig ek jou aan. ‘n Verantwoordelike lewe het dit wat ‘n onverantwoordelike lewe nooit sal hê nie. ‘n Verantwoordelike lewe het Jesus Christus.


Oor die Skrywer:



Pieter van Deventer is ‘n 18 jarige tiener, woonagtig in Pretoria, Suid Afrika. Hy hou baie van musiek, goeie boeke, en diep gesprekke oor die Skrif. Sy droom is om eendag ‘n Godvresende vader te wees. Hy gaan DV 2019 begin met teologiese studies by die AP Akademie.