Moenie arbei in ‘n ander se veld nie

“Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is.” – 1 Kor 12:7

In 1 Korinthiërs 12 raak Paulus ‘n besonderse aspek van roeping aan. 1 Korinthiërs is een van my gunsteling bybelboeke, en die twaalfde hoofstuk is beslis een van die hoofstukke wat ons as gelowiges tot besondere eer bring in ons onderskeie ampte.

Terloops, het jy geweet amp beteken werk?

Die kerk is soos ‘n liggaam

In die twaalfde hoofstuk van 1 Korinthiërs verduidelik Paulus die kerk van Christus, en elkeen se afsonderlike werk in hierdie kerk, op ‘n briljante manier. Hy vergelyk die kerk met ‘n liggaam. Netsoos ons liggame verskeie ledemate het, so het die kerk ook verskeie ledemate – dis waar die woord lidmaat vandaan kom.

In die kerk is daar – netsoos in jou liggaam – ‘n verskil tussen die verskillende ledemate. Daar is diversiteit. Hierdie diversiteit dien egter nie tot oneenheid nie, maar juis tot ‘n groter, meer vervullende eenheid. Eenheid en diversiteit is nie teenoorgesteldes nie. God is een en divers. Netsoos God tegelyk volkome eenheid en volkome diversiteit is, so moet die kerk ook tegelyk een en divers wees.

Om ander toe te laat om te dien – ‘n implikasie van diversiteit.

Een van die implikasies wat diversiteit in die kerk vir ons inhou, is om nie in mekaar se velde te arbei nie.

Paulus gebruik die liggaam as voorbeeld, so ek sal dit ook gebruik. Wanneer jou liggaam ontwikkel deur die verskillende fases van groei, dan ontwikkel jou verskillende ledemate om later, wanneer jy volgroei is, hulle werk in jou liggaam tot hulle beste vermoë te kan verrig. Ideaal sal jou liggaam teen twintig dan volgroei wees, en jy sal twee sterk arms en bene hê, tien vingers, tien tone, twee elmboë, twee knieë, ens. Dit is as alles verloop het soos dit moet.

Kom ons verander die voorbeeld van groei nou. Toe jy twee jaar oud word, besluit jy dat jy nie meer met jou bene gaan loop nie. Jy besluit dat jou arms die werk van jou bene beter sal kan doen, so jy kry vir jou twee krukke en sederdien loop jy net met krukke. Jou bene gebruik jy hoegenaamd nie meer nie. Hoe sal jou liggaam vaar wanneer jy twintig is? Jou liggaam sal nie ontwikkel wees tot sy volle potensiaal nie. Jou liggaam sal nie al die werk kan doen wat dit behoort te doen nie. Jy sien, terwyl die arms besig is om die bene se werk te doen, is die arms besig om hulle eie werk af te skeep.

Hoe gereeld is dit nie presies wat in die kerk gebeur nie? Is jy nie dalk skuldig hieraan nie? Arbei jy nie dalk waar iemand anders geroep word nie?

Jy sien, in die kerk, en in elkeen van ons se afsonderlike gemeente is daar baie werk. Vra bietjie vir jou predikant. Die gemeente wat nie baie werk het nie is nie besig om sy plek vol te staan nie.

Maar ons moet nie die arm wees wat die been se werk probeer doen nie.

Ek weet dat ekself, in my gemeente werk doen wat nie deur my verrig behoort te word nie. Jy sien, dit lyk baie edel om iemand se werk vir hulle te doen. Maar is ons nie besig om die bene te belemmer om te ontwikkel nie?

Kan die kerk sy plek volstaan as ons nie dien en laat dien nie? Kan my gemeente sy volle potensiaal bereik as ek aanhoudend ander lidmate se werk verrig?

Kom ons dien daar waar ons geroep is. Kom ons spandeer ons kragte eerstens om ons eie roeping uit te leef, en tweedens om ander aan te moedig om te dien daar waar hulle geroep word. Kom ons laat diversiteit toe om te floreer in onsself, ons gesinne, ons gemeentes, ons volk en in God se koninkryk.


Oor die Skrywer:



Pieter van Deventer is ‘n 18 jarige tiener, woonagtig in Pretoria, Suid Afrika. Hy hou baie van musiek, goeie boeke, en diep gesprekke oor die Skrif. Sy droom is om eendag ‘n Godvresende vader te wees. Hy gaan DV 2019 begin met teologiese studies by die AP Akademie.