Die Man van liefde

Hierdie is ‘n Arendsjeug geloofsverhaal.


Jy’s alleen.

Uitgeskop, koud, verlate. Almal het van jou vergeet. Vir jóú is daar geen hoop, geen helder toekoms nie. Jou enigste wens is om dood te gaan. Nee – wag. Daar is tog iets wat jy meer wil hê.

Liefde.

Maar dít sal jy nooit kry nie, want jy’s vuil. Te vuil om te hoop vir die enigste ding wat jy wil hê. Jy wil wegsak van skaamte as jy die dinge onthou wat jy gedoen het.

Jy tel maar die koue mes op. Jy ril as jy dink hoe dit jou steek. Maar dis óf dit, óf jy hou aan met ’n lewende hel. Stadig bring jy die mes na jou bors. Jy maak jou oë toe en kners op jou tande.

Toe verloor jy moed. Jy laat val die mes, laat val jou kop in jou hande. En jy húíl.

“Liefde,” fluister jy. “Ek sal enigiets doen daarvoor.”

Skielik is jy omring deur lig, so helder en skoon dat jou kop wil pyn. As jy jou oë op skrefies trek, kan jy die vorm van ’n Man sien. ’n Pragtige, heilige Man, met lig wat uit Hom straal.

Toe besef jy hoe vuil en skuldig jy is. Besodel van die sonde.

Jy kruip weg. “Los my asseblief,” snik jy. “Asseblief, ek … U is so pragtig, maar ek … is totaal en al onwaardig. Ek kan nie in U Teenwoordigheid wees nie. U moet asseblief weggaan.”

Daar is ’n hand op jou rug, die sagste en sterkste wat jy nog ooit gevoel het. En ’n Stem wat al jou vrese wegjaag en jou hart stil maak.

“Staan op,” sê die Man.

Jy kom stadig orent.

Die Man neem jou hande in Syne en kyk na jou met die pragtigste oë. Iets straal uit hulle, iets meer as lig.

Liefde.

“Wat wil jy hê?” vra die Man.

Jy kry dit reg om te fluister. “Liefde. Liefde en aanvaarding.”

“Kom na My,” sê die Man. Hy glimlag. “Kom na My, en ek sal jou alles gee wat jy wil hê.”

Die Man hou jou styf teen Sy bors. Jy voel Sy liefde – en jy voel skoon. Verlos van jou berge skuld.

Jy kyk na die Man, stomgeslaan. “Hoekom het U dit gedoen? Ek … ek is laer as ’n slang se maag. Hoekom het U met my gebodder?”

“Omdat Ek jou liefhet,” antwoord Hy. “Ek het jou meer lief as wat jy ooit kan dink. Jy’t My hart gebreek toe jy besluit het om jou eie ding te doen – maar toe kom jy terug na My. Toe jy roep, het Ek dadelik gekom. Ek kon nie wag om jou Myne te maak nie. En nou sal Ek altyd by jou wees; niemand kan jou van My wegruk nie.”

Jy huil alweer – maar nou is dit trane van blydskap. Jy het die liefde gekry wat jy so graag wou hê. Jy moes net vra.

Oor die Skrywer:



Jeanette van As (19) is ’n kind van God wat net uit Sy genade leef. Sy is ’n trotse Sedgefield local en het begin skryf omdat haar gesin haar gereeld moes vra om stil te bly ​:) Sy’s mal oor lees, drama, musiek en enigiets Iers. Sy skryf oor haar lewensreis en God se genade op haar blog.