Vir 2019: Meer luister, minder praat

Een van my vriende het vroeër die jaar (in 2018) vir my hierdie les geleer: Om jou mond te hou en die ander persoon kans te gee, is dikwels die beste manier om jou punt oor te bring.

Ons was by ‘n partytjie, en ek het ‘n debat gevoer met ‘n meisie wat ek eintlik van geen kant af ken nie. Ek en sy het baie uiteenlopende opinies gehad, maar dit was eers na die partytjie, toe my vriend my daarop attend maak, dat ek besef het dat, ten spyte van alles wat ek gesê het, ek geen indruk gemaak het nie.

Jy sien, ek was te besig om te praat.

Die belangrikheid van praat

‘Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek?’ – Rom 10:14.

Om te praat is baie belangrik. Die opdrag wat Jesus vir ons gee in Mat 28:19 kan jy net uitleef, as jy met dade en woorde getuig van Jesus se werk in jou lewe. Rom 10:14 maak dit ook baie duidelik. Iemand wat net aanhoudend stilbly en nie die Woord van God aan sy naaste bring nie is soos die man van Mat 25 wat sy een talent begrawe het.

Daarom moet ons praat. Ons moet praat om ons sondes aan mekaar en aan God te bely. Ons moet praat sodat ons konflik kan hanteer. Ons moet praat sodat ons nuwe idees en interpretasies van skrifgedeeltes op die tafel kan bring.

Spraak is ‘n gawe van God, wat ons moet gebruik tot sy eer.

Luister

So, dis dan duidelik dat ons nie voltyds moet luister nie. Daar is ‘n tyd vir alles, en soms is dit die tyd om op te staan vir jou geloof – om te praat, en om God so te verheerlik.

Maar waar pas luister dan in?

Om daai vraag te beantwoord, moet ons verstaan waarom dit so belangrik is om te luister.

Wanneer jy na iemand luister, dan gee dit daardie persoon kans om sy of haar saak volledig te stel. Om die probleem heeltemal te verduidelik. Om hulle hart uit te stort en alles wat hulle wou sê, te sê. As jy die persoon uitgeluister het, dan het jy ‘n baie beter idee van wat aangaan. Jy verstaan baie beter waarom hy of sy hartseer is, seergemaak voel, omgekrap is, of watookal die geval is. Jy het ‘n baie beter kans om die persoon se probleem in sy kern aan te raak, wanneer jy verstaan waaroor dit gaan.

Om te luister is ‘n baie belangrike deel van vriendskap. Dit is die stil manier om te sê: Ek gee genoeg vir jou om, om jou uit te luister, en dan saam met jou die probleem te probeer oplos.

Jy sien, wanneer jy luister en praat reg gebruik, dan is dit nie teenoorgesteldes nie, maar word dit twee gereedskapstukke wat saam werk om God te verheerlik in al ons verhoudings.

Vir 2019 wil ek graag meer luister

Om terug te kom na die oorspronklike geval, destyds het ek nie die waarde van my vriend se raad ingesien nie. Dit het my nie dadelik opgeval dat ek dalk nie heeltemal die meisie se argument verstaan nie. Ek het destyds luister en praat nog altyd as teenoorgesteldes gesien. Tot ‘n mate het ek luister gedefinieer as ‘n tydperk waarin ek stilbly sodat ek kan dink aan wat ek volgende gaan sê. (Ek is seker ons kan almal hiermee vereenselwig…)

Maar omtrent ‘n jaar later, besef ek nou dat luister en praat nie teenoorgesteldes is nie, en besef ek ook dat ek baie meer hierdie twee gereedskapstukke tot voordeel van mekaar moet gebruik. Daarom wil ek onderneem om in 2019, as die Here wil, meer te luister, meer die ander persoon kans te gee om klaar te praat, meer my mond te hou, en minder te praat.

Ek dink dit is iets waaraan ons almal kan werk. Jy sit dalk aan die ander kant van die rivier. Vind jy dat jy soms te min praat, en dalk te veel luister? Luister en praat behoort nie teenoorgesteldes te wees nie. Luister en praat is twee gereedskapstukke wat ons moet gebruik tot voordeel van mekaar, en tot eer van God.


Oor die Skrywer:



Pieter van Deventer is ‘n 18 jarige tiener, woonagtig in Pretoria, Suid Afrika. Hy hou baie van musiek, goeie boeke, en diep gesprekke oor die Skrif. Sy droom is om eendag ‘n Godvresende vader te wees. Hy gaan DV 2019 begin met teologiese studies by die AP Akademie.