5 Lesse wat ek geleer het deur groot dinge te doen

Ek is baie geseënd deur dat God vir my ouers gegee het wat ons – die kinders – van jongs af aanmoedig om in die wêreld te wees, maar nie van die wêreld nie. Solank as wat ek kan onthou het my ouers ons altyd aangemoedig om moeilike dinge te doen, uitdagings te aanvaar en deur te druk – al lyk dit soms asof jy misluk het.

Ek besef egter dat daar nog baie is wat ek moet leer. In my lewe kan ek nog heeltemal te veel van myself sien; daar is nog haakplekke, en selfs die dinge wat ek in hierdie artikel gaan noem is in baie gevalle nog iets waaraan ek moet werk.

Al is daar egter nog soveel wat ek van God moet leer, het ek egter besluit om hierdie 5 dinge – wat ek geleer het deur groot dinge te doen – vir julle neer te skryf.

1. Spanwerk is noodsaaklik.

As jy nie saam met iemand aan die projek kan werk nie, behoort jy glad nie daaraan te werk nie.

Spanwerk is vir my nogsteeds ‘n uitdaging. Na jare van orkes, spansport, kamp-kommittee, en soveel groepsprojekte van elke soort langs die pad, is dit nogsteeds nie vir my lekker om saam met ander mense te werk nie.

Maar om meer as een persoon betrokke te kry aan ‘n projek is noodsaaklik. Twee persone kan mekaar se swaktepunte uitskakel, en wanneer hulle verby hulle verskille kyk en besef dat altwee die projek suksesvol wil laat uitdraai – dan kan hulle regkry wat geen enkele persoon alleen kan regkry nie.

Onthou dat Jesus nie net een apostel gehad het nie…

2. Mislukking is nie finaal nie.

Jy kan hierdie een maar op ‘n papier skryf en op jou kamermuur plak.

Ek gaan met jou eerlik wees. Mislukking is nie glorieryk nie. Dis nie lekker nie en dis nie mooi nie. Dis hartseer – enigiemand wat al ooit hard gewerk het aan iets wat vir hulle baie belangrik was net om te misluk, weet waarvan ek praat.

Maar mislukking – of altans teëspoed – is ‘n natuurlike deel van enige projek. Mislukking is nooit finaal nie. Soms is mislukking vir jou ‘n padwyser. Ander kere is mislukking die mis waardeur ons sukses sien. Mislukking is nie finaal nie – ons weet immers dat selfs die dood vir ons nie finaal is nie want in Christus se bloed word ons dade bevestig tot in ewigheid.

3. Teenstand kan verwag word.

As jy nie teenstand op jou pad ondervind nie, dan is jy nie in die regte rigting oppad nie.

Moenie dink dat dit maklik is om ‘n uitdagende tienerlewe te leef nie. Dis nie maanskyn en rose nie. Daar is baie mense wat jou graag wil help om groot dinge te doen – maar ook baie mense wat nie van jou idee hou nie.

In Arendsjeug – veral met die reëlwerk aan ons jaarlikse kamp – ondervind ons gereeld teenstand. Mense wat ons kritiseer, of Arendsjeug wil gebruik vir hulle eie agenda – soms met goeie intensies, maar soms met regtig negatiewe intensies ook – en dit voel nooit lekker nie. Wanneer jy goeie werk doen, verwag teenstand, maar weet dat geen teenstand wat jy ookal mag ondervind onoorkombaar is nie.

4. Verskil vat tyd.

Nog een waarmee ek persoonlik baie sukkel.

Ons is die generasie van ‘onmiddellike satisfaksie’. Dink bietjie daaraan: As jy iets wil weet – dan Google jy dit gou. Soek jy ‘n teksvers? Wie het nie ‘n soekfunksie op hul elektroniese Bybel beskikbaar nie. Wil jy iemand se raad hoor? As die aanlyn forums jou nie tevrede stel nie, dan is al jou vriende, mentors, onderwysers en leeraars maar net ‘n foonoproep weg. Wil jy met iemand gesels? Daar is tien-talle sosiale media toeps beskikbaar met slegs die tik van ‘n vinger. Is jy honger? Bestel kos aanlyn en dit word by jou deur afgelewer. Soek jy afleiding? Jy kyk ‘n fliek op Netflix.

Ons generasie het nie nodig om lang-termyn satisfaksie te soek nie – kort-termyn satisfaksie is tog soveel makliker verkrygbaar. Ons het nooit nodig om lank te wag vir russeltate nie. Maar tog, enigiemand wat sy sout werd is sal vir jou sê dat ‘n verskil nie in ‘n dag, ‘n maand of selfs ‘n jaar gemaak word nie.

Verskil vat tyd. Vir ‘n projek om enige verskil in jou gemeenskap, jou vriendekring, jou kerk of die wêreld te maak gaan tyd – en baie geduld – verg. Bid en wag, want verskil vat tyd.

5. Klein groot dinge is soms groter as groot groot dinge.

Groot dinge wat deur almal gesien word is nie noodwendig wat God vir jou ingedagte het nie. Het jy geweet dat dit vir my baie keer moeiliker is om ons eetkamer op te ruim – as wat dit is om Arendsjeug aan die gang te hou? Hoekom? Nie omdat dit meer werk verg nie – maar omdat niemand ‘belangriks’ sien dat ek die eetkamer opruim nie.

Hoe belangrik het mense se denke van ons nie al vir ons geword nie? Hierdie dinge – om die eetkamer op te ruim – mag dalk ‘klein’ groot dinge wees, maar die ‘klein’ groot dinge is dikwels moeiliker, belangriker en groter as die ‘groot’ groot dinge.

God meet nie goeie dade op ‘n spektrum van hoe belangrik ons dink dit is nie. Ons beste dade – en dit wat vir ons die indrukwekkendste is – vergelyk tog met sy dade soos ‘n korrel sand vergelyk met die Drakensberge.

Om groot dinge te doen, om uitdagings te aanvaar, om buite jou gemaksone te lewe – hierdie is alles baie vervullende dinge. Ons is deur God gemaak om te groei, te ontwikkel en te verbeter. Dit is ons doel, en solank as ons nie dit uitleef nie, kan ons nie ware geluk ken nie.

Ware geluk kan nie gevind word in 8 ure ‘n dag van TV-kyk nie. Ware geluk kan net gevind word deur ons doel te leef.

Stap buite jou gemaksone, aanvaar uitdagings, doen groot dinge!


Oor die Skrywer:



Pieter van Deventer is ‘n 18 jarige tiener, woonagtig in Pretoria, Suid Afrika. Hy hou baie van musiek, goeie boeke, en diep gesprekke oor die Skrif. Sy droom is om eendag ‘n Godvresende vader te wees. Hy is tans eerste jaar student in BA tale aan die AP Akademie.