Dit is nie my omstandighede wat sondig nie, dit is ek

Hierdie persoon maak my nou so vies, ek is besig om meer en meer geïrriteerd  te raak met die gesprek. Ek het ‘n woeste dag gehad; ek voel moeg en ongeduldig. Ek weet ek gaan my humeur verloor of ‘n lelike opmerking maak.

Maar hoekom mag ek nie? Ek meen die gesprek was so irriterend en ek het ‘n aaklige dag gehad. Het ek het nie die volle reg om nou ‘n lelike opmerking te maak of my humeur te verloor nie?


Klink hierdie gedagte nie dalk vir jou bekend nie?

Ek moet erken dat ek baie skuldig is hieraan en dat my gedagtes gereeld die tipe kringloop maak.

Ek dink soms ek het die reg om te sondig omdat ek emosioneel is, of omdat ek ‘n rowwe dag gehad het.

Maar het ek die reg? Het ons enige verskoning of reg om te sondig? Nee! Ons het geen reg om te sondig nie. Ons mag geen verskoning soek om te sondig nie. Die sonde bly nog sonde en dit is afskuwelik voor God.

Omstandighede sondig nie, ek sondig.

Hoe dikwels glo ons nie die leuen dat omstandighede maak dat ons sondig nie?

Maak nie saak wat ons omstandighede is nie, ons is steeds verantwoordelik vir wat ons doen. Dit bly verkeerd om te sondig.

Ons sê maklik vir iemand wat ons dade oordeel:  “Ja, maar jy het nie geweet wat my omstandighede was nie. Moenie oordeel nie! Jy’t nie in my skoene gestaan nie!” Ons vergeet maklik dat sonde verkeerd bly ongeag wat die omstandighede is.

Ons probeer ons gewete te stil deur vir onsself te sê dat omstandighede gemaak het dat ek nie lekker voel nie en omdat ek dan nie lekker voel nie het ek die reg om mislik te wees en te sondig. Dus is ek nie so sleg nie, dit was die omstandighede wat gemaak het dat ek sondig. Ons blameer dit op omstandighede en wil nie verantwoordelikheid vat vir ons eie sondes nie.

Dit maak nie saak wat my omstandighede is nie, ek het nie die reg om te sondig nie. Al voel ek sleg en is emosioneel, reg bly reg en verkeerd bly verkeerd.

Sonde bly sonde, maak nie saak wat my omstandighede is nie.

Ten alle tye selfbeheersing.

Om nie te sondig in moeilike omstandighede nie, is nie maklik nie! Dit verg selfbeheersing.

Ons moet ten alle tye beheer oor onsself hê wanneer daar moeilike omstandighede is. As ons in moeilike omstandighede is mag ons dit nie as ‘n rede beskou om ons selfbeheersing te verloor en soos ons humeur ‘n vrot vel weg te gooi nie.

Neem jou gedagtes gevange en bring dit tot gehoorsaamheid voor God. Die sonde begin by ‘n verkeerde gedagte. Net om te dink dat dit nie so sleg van my is om nou te sondig nie lei na ek wat wel sondig. Neem daai gedagtes gevange. Besef wat jy dink en bring jou gedagtes tot gehoorsaamheid voor God. (2 Kor 10:5 )

Jesus se omstandighede.

Dink aan Jesus se omstandighede toe Hy deur die duiwel versoek is in die woestyn. Jesus was honger, warm en Hy was moeg. Hy het nie geëet om Hom energie te gee nie en die hongerkrampe het Hom heel moontlik wakker gehou in die nag. Maar Jesus het nie toegelaat dat sy omstandighede Hom lei tot sonde nie. Hy het die versoeking weerstaan van die duiwel met moeilike omstandighede en al. En dan dink ons ons het die reg om te sondig omdat ons ‘n woeste dag gehad het of nie lekker geslaap het nie? Ons mag nie toelaat dat ons omstandighede ons lei tot sonde nie! Ons het geen verskoning nie.

Dink ook ‘n bietjie aan die kruisiging van Jesus, toe Hy lydende aan die kruis gehang het . Hy het die wat Hom gekruisig en gesmaad het nie gevloek of op hulle geskel nie. Maar Hy het gevra dat God die kwaaddoeners moet vergewe, want hulle weet nie wat hulle doen nie. (Lukas 23:34)

Sjoe, om te dink Jesus het aan ‘n kruis gehang vir ander mense se sondes, toe Hy gevra het dat God die mense wat teen Hom gesondig het en Hom teen ‘n kruis vasgespyker het moet vergewe. En ons? Wat doen ons? As ons net ‘n hoofpyn het dan gryp ons die kans aan om te sondig en dan gebruik ons dit as ‘n verskoning en streel ons gewete deur te sê dat ons nie so sleg is nie, maar dat dit ons omstandighede is wat sleg is.

En ons het nie eens aan ‘n kruis gehang met spyker deur ons hande nie! Jesus het gely en was in helse pyne, maar wat sê Hy as iemand Hom smaad? Vergewe hulle! Jesus vergewe die mense wat Hom smaad en onwaarhede oor Hom kwytraak!

Ons moet teen die sonde stry, met moeilike omstandighede en al, maar ons kan dit nie uit ons eie doen nie. Daarom moet ons van God die krag vra wat Hy deur sy Heilige Gees aan ons gee as ons dit van Hom vra met ‘n opregte hart.

Uit onsself sal ons dit nie regkry om nie te sondig met swaar omstandighede nie, maar deur die krag van die Heilige Gees kan ons dit doen.


Oor die Skrywer:



Ester van Deventer is ‘n 17 jarige tiener, wat baie van kuns hou. Sy geniet dit om ure lank te sit en droom en sy is van mening dat al haar beste kuns idees uit sulke droomsessies kom. By dit is sy egter baie lief vir haar Saligmaker, en sy streef daarna om Hom elke dag beter te leer ken.