10 Leuens van Hollywood

Ek hou van moderne media. Ek spandeer baie tyd op moderne media. Ek is ‘n groot ondersteuner van die sogenaamde Marvel Cinematic Universe en ek kyk graag na ander superheld materiaal soos The Flash.

Ek geniet dit egter nie so baie dat ek vergeet dat die produseerders telkemale besig is om hulle idees vir my te voer nie.

Ek is oortuig dat flieks, sosiale media, TV-reekse en ander vorme van digitale media ‘n baie persoonlike saak is. Tot ‘n groot mate kan ek nie vir jou voorskryf wat jy mag en nie mag kyk nie. Maar, daar is grense wat die Bybel vir ons stel, en daar is leuens wat Hollywood vir ons voer.

Hier is die 10 Leuens van Hollywood.

1. Jy moet in jouself glo om suksesvol te wees.

Soos ek reeds gesê het, ek is ‘n groot ondersteuner van superheld fliekmateriaal. Hierdie leuen kom egter konstant daarin voor.

As jy “Believe in yourself, and you can achieve anything!” op ‘n papier wil skryf en op jou kar plak kan ek jou nie stop nie, maar as jy op jouself vertrou gaan jy jouself teleurstel. Vertrou op Christus, want Hy stel nie teleur nie.

2. Kys is nie met die oog op die huwelik nie.

Ter wille van duidelikheid, “kys” is die Afrikaanse weergawe van “dating”.

Veral deur TV-reekse, probeer sekulêre produseerders om die huwelik af te breek. Die Bybelse beginsels is duidelik: Wanneer jy met iemand uitgaan, dan behoort jy dit te doen met die bedoeling dat jy die persoon oorweeg as ‘n huweliksmaat.

Ongelukkig word hierdie leuen deur baie jongmense geglo.

Moenie val vir hierdie leuen nie, daar is baie vreugde wanneer jy jou liefdeslewe ook tot eer van God inrig.

3. Dit is “OK” om te vloek.

Dis nie nodig dat ek verduidelik hoe verkeerd dit is nie. Die Bybel is vol daarvan. Efesiërs 4:29 sê: “Laat daar geen vuil woord uit julle monde uitgaan nie, maar net ‘n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor.” Paulus is baie reguit: Ons moet nie lelik praat nie.

Moenie dat Hollywood jou wysmaak dat dit “OK” is om te vloek nie.

4. Sukses kom vinnig.

Daar is ‘n legende van ‘n musikant. Die man was al in sy negentigs en na ‘n lang leeftyd waar hy meeste van sy tyd spandeer het om meer vaardig op sy instrument te word, is hy gevind, besig om te oefen. “Hoekom hou jy aan om jou instrument te bespeel?” het hulle hom gevra. “Want ek dink ek maak vordering.” was sy antwoord.

Ek wil jou nie ontmoedig om te probeer nie, maar moenie verwag dat sukses vinnig gaan kom nie. Vordering verg geduld en deursettingsvermoë.

5. Die mens is die belangrikste.

Hierdie is nie beperk tot Hollywood nie. Die post-modernisme wil die mens die belangrikste maak. Ons sien dit in advertensies, ons hoor dit in musiek, ons vind dit in boeke en natuurlik ook in flieks.

Ek dink dis tyd dat ons die ingesteldheid van “Ek wil gedien word” begin verander na “Ek wil help dien”.

6. Die wraak kom jou toe.

Ek sal eerlik wees: Oor die algemeen is hierdie nie juis iets wat deur die film-industrie verkondig word nie, maar onderliggend kry ons tog die idee dat die produseerders wraak goedkeur.

Die twee beste voorbeelde waaraan ek kan dink is die Arrow TV-Reeks en The Accountant. Dit mag dalk pret wees om na sulke tipe “vigilante” geregtigheid te kyk, maar moenie daarvoor val nie. Die wraak kom ons nie toe nie (Deut 32:35).

7. Sonde hang van omstandighede af.

Ek kan hierdie nie genoeg sê nie. Sonde bly verkeerd. Sonde is sonde is sonde en geen omstandighede kan dit verander nie.

Dit is wel waar dat daar baie kompleksiteit aan omstandighede is. Ek wil jou aanmoedig om altyd iemand se omstandighede in ag te neem en die persoon in liefde te vermaan, maar moet nooit val vir die leuen dat iemand se sonde nie sonde is nie omdat sy omstandighede te sleg was.

8. Alles werk saam vir die “Happy ending”.

Met enkele uitsonderings, eindig elke fliek met die skurk wat aan die kortste end trek.

En niks is daarmee verkeerd nie. Ek is eenhonderd persent vir gelukkige eindes. Maar, in die regte lewe werk alles nie uit soos jy wil hê dit moet uitwerk nie. Daar gaan dinge buite jou beheer wees wat nie saamwerk met jou beplanning nie. Daar gaan dinge wees wat klaarblyklik die gelukkige einde van jou lewe bederf.

Maar moenie vergeet nie: God is in beheer.

9. Gay is “OK”.

Hierdie een is duidelik verkeerd.

Die Bybel draai nie doekies om daaroor nie. Ten spyte daarvan word ons konstant gebombardeer met homoseksuele verhoudings op TV.

Hollywood probeer hard om iets wat op elke manier verkeerd is, aanvaarbaar te maak.

10. Die perfekte wêreld.

Die produseerders het ‘n storie wat hulle probeer vertel. Die karakters moet inval by die storie. Die karakters moet inpas by die “perfekte wêreld” sodat die kykers die storie kan geniet.

Ek het niks teen ‘n goeie storie nie. Ons is immers self ook deel van ‘n storie: Die storie van die wêreld; die storie van die genadige God wat sy Seun gestuur het om ons sondes te betaal.

Maar in hierdie wêreld is daar baie onregverdighede en dit is tyd dat ons gewoond raak daaraan en werk om ‘n verskil te maak.

Hollywood moet ‘n wêreld skep waar alles uitwerk sodat die held aan die einde na die sonsondergang kan staan en kyk, maar moenie die wêreld wat Hollywood in hulle flieks skep verwar met die wêreld waarin ons leef nie.

Digitale media kan goeie vermaak verskaf, dit kan selfs baie nuttig wees, maar wees versigtig. Tot ‘n groot mate word dit nie uit ‘n Christelike wêreldbeskouing aangebied nie. Tot ‘n groot mate is dit onchristelik.

Laat ons nie onchristelik word omdat ons te lief is vir onchristelike media nie.


Oor die Skrywer:



Pieter van Deventer is ‘n 19 jarige tiener, woonagtig in Pretoria, Suid Afrika. Hy hou baie van musiek, goeie boeke en diep gesprekke oor die Skrif. Sy droom is om eendag ‘n Godvresende vader te wees. Hy is tans eerste jaar student in BA tale aan die AP Akademie.