Werk met wat jy het

Wat verhoed ons meer effektief in God se Koninkryk te arbei? Een van die groot faktore, is dat ons gereeld uitdagings ontmoet: Uitdagings wat ons soms oorreed om op te gee; uitdagings wat ons soms oorreed om nie eers te probeer nie.

Sulke uitdagings kan nogal prakties wees – glo my ek weet. Miskien wil jy ‘n skrywer word, maar jy het nie ‘n rekenaar om op te skryf nie; miskien wil jy sendingwerk doen, maar daar’s nie ‘n sendingsorganisasie by julle gemeente nie; miskien wil jy publieke-spraak oefen, maar daar’s geen stil plek op julle erf nie (ken daai een). Jy het my innige simpatie. Maar, moenie dat dit jou onderkry nie.

Ek dink ons voel maklik soos Dawid: Asof ons ‘n Goliat het om te oorwin en dit met net 5 ronde klippies: Daar kan soms so baie moeilikhede wees; ons kan soms so maklik voel dat ons skamele bydrae nie die risiko werd is nie. Dis makliker (en veiliger) in ons gemaksones. Maar, Dawid het Goliat gedood, omdat dit God se wil was. Is daar ‘n saak wat jy vermy, wat dalk God se wil is?

Soos Dawid moet ons nie vaskyk in die fisiese tekortkominge nie. Die God van Dawid is ook ons God.

Oefen jou vlerkies, kuiken!

Ek en jy het nog baie avonture wat voor ons lê. Ons het nog baie om te leer, en in meer as een opsig is ons nog onvolwasse. In meer as een opsig is ons nog kuikens in die geloof. Arendskuikens, as jy wil.

Die eerste keer wat ‘n arendskuiken vlieg is die klap van sy vlerke nog nie majestueus nie, ver van dit. Sy arendsvlerkies is nog klein en dit lyk nie indrukwekkend nie, maar dit word raakgesien en deur aanhoudende oefening kan die jong arend groei tot ‘n manjifieke kreatuur soos sy arendsouers.

Net soos ‘n arendskuiken het ons die verantwoordelikheid om die gawes en geleenthede wat God vir ons gee aan te gryp en te ontwikkel, sodat God se Naam daardeur verheerlik mag word. God eis immers verantwoording.

Die verantwoording wat God eis, soos in die gelykenis van die talente.

In Mattheüs 25:14-30 lees ons die gelykenis van die talente. Jesus vertel hierdie gelykenis in sy profetiese rede. Die gelykenis gaan oor ‘n man wat op reis gegaan het. Hy het aan sy een dienskneg 5 talente (‘n geldeenheid) gegee. Vir een van die ander het hy 2 talente gegee en vir ‘n derde het hy 1 talent gegee. Nadat die man teruggekom het van sy reis, het hy rekenskap vanaf sy diensknegte geëis. Die eerste twee het die geld wat hy aan hulle gegee het (deur harde werk) verdubbel, maar die derde het die 1 talent wat hy ontvang het begrawe en netso aan sy baas teruggegee. Die man was baie kwaad vir die derde dienskneg, en hy het die 1 talent van die derde dienskneg vir die dienskneg wat (nou) 10 talente het gegee. Gaan lees gerus die gelykenis.

Een van die dinge wat ons uit hierdie deel leer, is dat God rekenskap eis van dit wat Hy vir ons gee. God gee soms vir sommige mense meer as vir ander – en van sulke mense word nog meer verantwoording geëis, maar dis ‘n artikel vir ‘n ander dag – maar Hy eis van ons almal om dit wat Hy vir ons gee nie weg te steek nie, maar daarmee te werk en dit te vermeerder.

Hierdie saak het betrekking op geestelike gawes en geleenthede, maar dit het ook betrekking op gawes en geleenthede wat nie geestelik is nie.

Ontwikkel jy jou talente? Gryp jy die geleenthede aan wat God vir jou gee?

Dalk is jy iemand wat terugkyk op dele van jou lewe waar God vir jou gawes gegee het wat jy nooit ontwikkel het nie. Moenie dat dit jou keer om nou (en in die toekoms) die gawes en geleenthede wat God op jou pad bring aan te gryp nie.

Ons het hierdie gawes van God ontvang, so kom ons gebruik dit soos God wil hê ons dit moet gebruik.

Deur noual jou gawes (hoe klein dit ookal mag wees) te gebruik, toon jy nie alleen dat jy op God vertrou om jou te help nie, maar jy berei jouself ook voor vir ‘n volwasse lewe vol van opwinding, Godsvrug, avontuur en (as God wil) sukses!

 


Oor die Skrywer:



Pieter van Deventer is ‘n 19 jarige tiener, woonagtig in Pretoria, Suid Afrika. Hy hou baie van musiek, goeie boeke en diep gesprekke oor die Skrif. Sy droom is om eendag ‘n Godvresende vader te wees. Hy is tans eerste jaar student in BA tale aan die AP Akademie.