Leeslysie

Soos elke boom ‘n wortel, en elke fontein ‘n bron het so ook het Arendsjeug sy oorsprong, en ons sal jou graag vertel waar Arendsjeug vandaan kom!

Ons wil dit op ‘n baie spesiale manier doen. Saam met jou wil ons weer die paadjie stap wat ons gestap het. Ons wil jou laat lees wat ons gelees het, ons wil jou laat verstaan wat ons ondervind het, sodat jy net soos ons ook aangespoor kan word om Groot Dinge te doen!

Waar kom ons vandaan?

Dit het alles begin by die idee. Die idee wat die status quo uitdaag. Die idee wat vra: Maar wat as…?

Wat as tieners regtig groot dinge kan doen? Wat as die mite van die Tiener ‘n leuen is? Wat as God my as tiener roep om groot dinge tot eer van sy Naam te doen?

Hierdie was die soort vrae wat Alex en Brett Harris hulleself afgevra het toe hulle TheRebelution (een van die grootste Christelike blogs tot op hierdie datum) begin het.

Alex en Brett het besef dat tieners geoormerk word vir mislukking nog voordat hulle die kans gehad het om eens te probeer om suksesvol te wees. Van tieners word nie verwag om verantwoordelik te wees nie, en daarom word hulle nie die kans gegee nie.

Wat egter nog ‘n groter skok is, is die feit dat dit lyk asof ‘n hele generasie tieners aandele in hierdie leuen gekoop het. Dit lyk regtig asof die tieners self glo hulle gaan ‘n mislukking wees, nog voordat hulle probeer het om sukses te behaal.

Dit het die tweelingbroers aangemoedig om die blog, TheRebelution, te begin. Hulle het besluit om die generasie wakker te maak. Hulle het besluit om aan die generasie uit te wys: Tieners kan groot dinge doen. Tieners kan hulle merk maak tot eer van God!

Vandag kan daar in Amerika gesien word dat die Here vir Alex en Brett bygestaan het. Deur God se genade het Hy gegee dat Alex en Brett se idee vlamgevat het. Aangespoor deur Alex en Brett is tieners van oor die wêreld af besig om die status quo uit te daag, en Groot Dinge te doen.

Tieners stig fondse om putte in Afrika te grawe, tieners hou veldtogte vir hawelose mense, tieners maak ‘n verskil, tieners loof God se Naam!

TheRebelution is ‘n baie groot inspirasie vir Arendsjeug. Ons glo en vertrou vas op God, dat Hy hierdie generasie tieners wil wakker maak om Hom te verheerlik.

Wat in Amerika gebeur het kan hier ook gebeur. Dit is waarvoor ons Arendsjeug gestig het. Ons het Arendsjeug gestig sodat die tieners in Suid Afrika kan hoor wat God van hulle verwag. Ons het Arendsjeug gestig sodat die tieners in Suid Afrika wakker kan word, vlam kan vat, en God kan verheerlik!

Oorsprong

Omdat die idee nie by ons begin het nie, sal ons julle graag terugverwys na TheRebelution, wat tans nog baie besig is om die harde stryd te stry teen verwagtings. Jy kan gerus gaan kyk by die blog wat nou ‘n webblad geword het. Dit is besigtigbaar by www.therebelution.com

Boeke

Verder is daar ook baie boeke wat jy kan lees.

‘N boek is iemand anders se gedagtes, op papier vir jou bewaar, sodat jy dit weer kan herontdek!

Daarom, hier is ‘n lys van goeie christelike boeke wat jy beslis kan lees!

  1. Do Hard Things – Alex & Brett Harris

  2. Knowing God – JI Packer

  3. Knowing Christ – Mark Jones

  4. Don’t Waste Your Life – John Piper

  5. The Holiness of God – RC Sproul

  6. God’s Solutions to Life’s Problems – Wayne Mack

  7. Mere Christianity – CS Lewis

  8. This Changes Everything – Jaquelle Crowe

  9. Pilgrim’s Progress – John Bunyan

  10. The Hole in our Holiness – Kevin deYoung