Raak Betrokke

Goeiedag, en voordat jy verder lees, eers ons opregte dank!

Vir ons om Arendsjeug aan die gang te hou sonder jou betrokkenheid is soos om ‘n kers aan albei kante te brand.

Voordat jy verder lees moet jy eers besef dat die belangrikste manier waarop jy betrokke kan wees, is om dit wat jy hier lees, aan God se woord te toets en, indien dit nie teen die Woord is nie, dit uit te leef in jou eie lewe.

(Hand 17:11, Gal 1:8, Gal 6:9)

Jy kan egter ook betrokke raak by Arendsjeug.

Hier is 6 maniere waarop jy betrokke kan raak:

  1. Leef die boodskap uit

  2. Deel met ons

  3. Teken in op ons nuusbrief

  4. Organiseer ‘n bybelstudie

  5. Versprei die nuus

  6. Publiseer jou artikels

1. Leef die boodskap uit.

Arendsjeug is ‘n wortelbeweging. Solank as wat jy besig is om teen lae verwagtings te rebelleer, solank bestaan Arendsjeug. As alle tieners gaan ophou om te leef soos God van ons verwag, wat help dit dan dat ons hiermee aangaan?

Doen iets:

  • Klim af van jou rekenaar, slimfoon, of TV-stel, en doen daai dinge wat jy al so lank uitstel!
  • Spandeer jou tyd, geld, en energie op iets wat opbouend is.
  • Bied vrywillig aan om te help, by jou kerk, in jou skool, en in jou huis. Saam met die mense wat jy elke dag leef.
  • Reik uit na iemand wat nie so bevoorreg soos jy is nie.

2. Deel met ons

Ons wil regtig graag hoor wat jou verhaal is. Hoe werk God in jou lewe? Of jy nou krities is op Arendsjeug, of mal is oor die beweging, stuur beslis vir ons ‘n e-pos!

Doen iets:

  • Stuur vir ons ‘n e-pos

3. Teken in op ons nuusbrief.

Ons stuur maandeliks ‘n nuusbrief uit vir almal wat ingeteken het, waar ons etlike belangrike onderwerpe uitlig. Onder andere: Nuwe artikels, nuwe gebeurtenisse, iets om in gedagte te hou, en sake waarvoor jy kan bid, en op ander maniere ondersteun.

Doen iets:

  • Klik hier om in te teken vir ons nuusbrief.
  • Het jy alreeds ingeteken? Lees die nuusbriewe, en maak seker dat jy op die manier ook betrokke raak.

4. Organiseer ‘n bybelstudie.

Versterk jou en jou vriende se geloof, en vriendskapsbande, deur gereeld saam bybelstudie te hou. Oorweeg dit om die bybelstudie self te lei, of vra vir jou ouers, pastoor, of predikant om te help.

Deur vaste tye vir bybelstudie vas te maak, kan jy verhoed dat jy of jou vriende later uit laksheid die idee prysgee. Wanneer jy nie beplan vir bybelstudie nie, dan gebeur dit net nie.

Doen iets:

  • Bel ‘n vriend, of vriende. Hoor by hulle of hulle bereid is om saam met jou bybelstudie te doen.
  • Maak vaste tye vir bybelstudie. Nie al jou vriende woon noodwendig naby aan jou nie, maar maak ‘n sekere tyd vas spesifiek vir bybelstudie. Byvoorbeeld: Die eerste donderdag van elke maand om 18:00nm.
  • Kies ‘n bybelboek om deur te werk. Dit is ‘n goeie idee om met een van die vier evangelies te begin. (MattheĆ¼s, Markus, Lukas, Johannes.)
  • Vra vir jou pastoor of predikant vir ‘n goeie studiegids oor die bybelboek om deur te werk. Dit is baie moeilik om groepsbybelstudie te doen as jy nie ‘n studiegids gebruik nie.

5. Versprei die nuus.

Arendsjeug groei wanneer nuwe jongmense hierdie webblad besoek, en daardeur aangespoor word om hulle lewens te verander, en Jesus in hulle lewens uit te leef. Jy kan daarmee help, deur met jou pastoor of predikant te praat, by jou plaaslike kerk die ander tieners aan te moedig om die artikels te lees, persoonlik ons aan te beveel, of die webblad op Facebook of Twitter te deel. Die opsies is so grensloos soos jou verbeelding!

Doen iets:

  • Stuur ‘n e-pos aan jou pastoor/predikant. Vertel hom van Arendsjeug, en vra hom om die woord te versprei.
  • Praat met die ander tieners in jou kerk. Vertel hulle van Arendsjeug, en moedig hulle aan om ons artikels te lees.
  • Deel die webbladsy op Facebook, of Twitter. Vertel vir almal van Arendsjeug, en moedig hulle aan om ons artikels te lees.

6. Publiseer jou artikels.

Is jy ‘n kranige skrywer? Het jy dalk jou eie blog? Oorweeg dit om vir Arendsjeug te skryf. Jy kan bestaande werke aanstuur, of jy kan unieke stukke wat jy spesiaal vir ons geskryf het aan ons stuur. Dit is ‘n uitstekende manier om tieners oor Suid Afrika aan te spoor, en te groei as ‘n skrywer!

Doen iets:

  • Dink daaroor of jy enige bestaande werke het wat jy graag aan ons wil stuur.
  • Breinstorm enige nuwe onderwerpe waaroor jy kan skryf.
  • Skryf jou artikel, van min of meer 600-800 woorde.
  • Stuur jou artikel aan ons, deur middel van ons Stuur Artikel Vorm.